De onderstaande gegevens zijn afkomstig uit het boek "Die Familie Suurd in Suid-Afrika" (Die voor- en nageslag van Hans Suurd en Maria Herrewijnen), geschreven door Hercules M. Malan en uitgegeven in 1992. Maria Herrewijnen, is geboren op 7 juni 1920 te Abbenbroek. Zij is de oudste dochter van Jacob Herrewijnen en Roelofje Haisma. Maria trouwde op 15 mei 1952 met Hans Suurd, geboren 11 februari 1920 te Duurswoude. De gegevens in dit stuk van voor de achttiende eeuw werden niet door mij gecontroleerd. Dit in het Zuid-Afrikaans geschreven stuk is zeer de moeite waard om te lezen. Om die reden heb ik mij tot Dr. Hercules M. Malan, woonachtig in Zuid-Afrika, gewend met het verzoek of de gegevens uit zijn boek over de familie Herrewijnen op deze website mogen worden gepubliceerd, zodat ook anderen hiervan kennis kunnen nemen. Dr. Hercules M. Malan heeft mij hierop bericht dat hij daar graag zijn toestemming voor geeft.
Bij deze nogmaals mijn hartelijke dank, tevens namens de lezers, aan Dr. Hercules M. Malan voor de verkregen toestemming.
GESKIEDENIS VAN DIE HERREWIJNENS
Die Herrewijnens stam af van die heer Bruisten van Herwijnen. Hy was afkomstig van ´n adellike Gelderse geslag. Bruisten is in 1370 getroud met Elisabet, ´n buite-egtelike dogter van Hertog Albrecht en Catharina, dogter van Gerrit Buse.
Soos sy naam aandui, was Bruisten afkomstig van die dorp Herwijne in Zeeland. Hy is aangestel as balju van Zierikzee en rentmeester van Zeeland. In 1385 word hy slotvoog van Loevenstein en gaan in dieselfde jaar saam met Willem Grave van Oostervant na Damme. As gevolg van sy rooftogte in Gelderland word hy in 1386 deur Hertog Willem van Gulik gevange geneem.
In 1397 val Willem van Oostervant Loevenstein aan en Bruisten vlug na Gelderland.
Verder is dit bekend dat Bruisten van Herwijne se oudste seun die naam Willem gedra het.
Die volgende inligting wat oor die Herrewijnens bekend is, kom eers in die agttiende eeu voor.
Pieter Jacobs Herwyne en Jannetje Bastiaans van Driel se seun, Jacob Pietersz. Van Herwynen, is in 1727 gebore. Hy trou in 1757 met Neeltje Tuindert.
In die vergadering van die dykgraaf en heemrade van die polder Zuidland van 19 januarie 1758 is Gerrit Herwynen as watermeulenaar aangestel teen ´n jaarlikse traktement van 100 gulden en 10 ton turf.
Die meule van Zuidland was op daardie stadium slegs twee jaar vantevore voltooi. Die meule was van steen gebou en die deursnee van die wieke was ´n ongelooflike 30 meter. Hierdie geweldige meule het water uit die polder Zuidland en die naasliggende polder Velgersdijk gepomp.
Gerrit en sy gesin het in die meule gewoon. Na sy eerste vrou, Neeltje, se dood hertrou hy in 1767 met Lena de Raaf.
Gerrit was tot minstens 1787 watermeulenaar.
In 1789 word melding gemaak van die watermeulenaar Jacob Herwynen. Hy was ´n seun van Gerrit Herwynen en was tot 1825 watermeulenaar.
Jacob is in 1769 gebore en is in 1793 getroud met Hillegonda de Labye. Haar vader, Willem de Labye, was van Franse afkoms.
Jacob is deur sy seun Gerrit Herrewynen opgevolg as watermeulenaar. Gerrit is in 1794 gebore en in 1814 getroud met Adriaantje van Eisden.
Na Gerrit se dood in 1850 is sy seun, Jacob Herrewynen, as watermeulenaar aangestel.
Jacob is in 1830 gebore. Sy eerste vrou, Kaatje Heymans, is kort na hulle huwelik oorlede. Hy hertrou in 1855 met Cornelia Verburgh.
´n Tragedie vind tydens Jacob se termyn as watermeulenaar plaas toe sy dogtertjie, Maartje, by die meule verdrink.
Die watermeule van Zuidland was een van die grootste meules wat ooit gebou is en daar word vertel dat dit eenmaal na ´n oorstroming, waarna die polder onder 50 cm water was, die hele polder in ´n enkele dag leeggepomp het.
Die probleem was egter altyd dat die meule nie kon werk as die wind nie gewaai het nie. Dit het dan so nat geword dat daar waargeneem is dat daar visse oor die paaie geswem het!
Hierdie probleem is in 1890 opgelos toe stoomaangedrewe pompe in die polder Zuidland in gebruik geneem is.
Die nuwe ontwikkeling het daartoe gelei dat die watermeule oorbodig geraak het en die amp van watermeulenaar in 1891 afgeskaf is.
Jacob was so woedend daaroor dat hy die wieke van die meule tydens ´n storm losgemaak het sodat hulle deur die wind stukkend geslaan is. Die beskadigde meule is uiteindelik in 1912 finaal gesloop.
Leendert Herrewijnen is in 1863 gebore. Hy is in 1890 getroud met Maria Troost. Maria het ´n sterk persoonlikheid gehad en het Leendert bygestaan in sy boerdery. Dit is grootliks aan haar invloed te danke dat Leendert, wat met letterlik niks begin het nie, met sy dood in 1940 ´n boedel van 16000 silwer gulden nagelaat het. Maria is slegs ´n week na haar man oorlede.
Jacob Herrewijnen, die oudste van Leendert en Maria se twaalf kinders, is in 1890 gebore. Hy is tydens die Eerste Wereldoorlog gemobiliseer, maar het nooit geveg nie omdat Nederland uiteindelik nie binnegeval is nie.
Een van Jacob se kamerade was Bruin Haisma uit Friesland. Deur sy bemiddeling het Jacob sy jonger suster, Roelofje, ontmoet. Jacob en Roelofje is, na afloop van die oorlog, in 1919 getroud.
Roelofje se vader, Jan Haisma, was ´n skipper op die Friese mere. Wanneer die skip van een meer na die ander moes vaar, is dit in die kanale deur perde getrek. Die opvolging van die beroep van vader na seun het ongelukkig tot ´n einde gekom toe Jan se seun Bruin op jeugdige leeftyd oorlede is.
Jacob was ´n vakman wie se werk bestaan het uit die dreinering en skoonmaak van watergange en slote. Hy het ook as ondernemer werk vir ander mense gedoen en het self grond gehuur waarop hy groente en veevoer verbou het en ook melkkoeie aangehou het.
Jacob was ouderling in die kerk en het ook preke gelees wanneer daar nie ´n predikant beskikbaar was nie. Na ´n kerktwis om die persoon van ds Smijtegeld tree hy egter uit die kerk. Tuis is daarna nog steeds huisgodsdiens gehou en elke Sondag ´n preek gelees.
´n Groot familiefees is in 1984 tydens Jacob en Roelofje se vyf-en-sestigste huweliksherdenking in Abbenbroek gehou. Ses van hulle 10 kinders was teenwoordig asook ´n hele aantal kleinkinders en agterkleinkinders. Hulle oudste dogter, Maria, wat na Suid-Afrika emigreer het, is deur haar oudste dogter, Roeline, verteenwoordig. Roeline is deur haar Suid-Afrikaanse man, Hercules Malan, en haar twee kinders vergesel.
Jacob is in 1985 oorlede en Roelofje in 1991.
Maria Herrewijnen is in 1920 gebore. As die oudste van die kinders moes sy van jongs af met die huishouding en die versorging van haar jonger broers en susters help.
Marie kon nie op Maandae skoolgaan nie omdat sy tuis met die wasgoed moes help. Op sestienjarige leeftyd verlaat sy haar ouerhuis om as werksmeisie op die boerdery van P. Blaak te gaan werk.
Op agttienjarige ouderdom kry Marie die geleentheid om in Poortugaal by die Deltaziekenhuis (toe bekend as "Maasoord") te gaan verpleeg. Sy het hierdie geleentheid aangegryp aangesien dit van jongs af haar ideaal was om te verpleeg.
Nadat sy ´n diploma in psigiatriese verpleging in 1943 behaal het, het sy haar verdere opleiding in die Zuiderziekenhuis in Rotterdam en die vroedvroueskool in Henegouwerlaan voortgesit. Sy behaal haar diploma in algemene verpleging in 1950.
Marie was in 1940 in Rotterdam tydens die Duitse lugaanval. Sy het later vertel dat die vlamme so hoog was dat hulle nie die bokant daarvan kon sien nie. Sy het haar voorgestel dat dit was soos die hel moes lyk.
Marie was vrolik van geaardheid en het ´n goeie sangstem gehad. Daar was nie ´n tekort aan mans wat haar die hof wou maak nie en sy het by geleentheid ´n huweliksaansoek van ´n dokter gehad. Sy het dit egter van die hand gewys omdat hy nie godsdienstig was nie.
Tydens een vakansie is Marie saam met haar suster Klas na hulle tante Gees in Oudehorne in Friesland. Daar het sy ´n jongman, Hans Suurd, ontmoet. ´n Verhouding het ontstaan wat later verbreek is. Uiteindelik is die verhouding egter weer herstel.
Tydens die oorlog het Hans op ´n keer onverwags uit Frankrijk gekom om Marie te besoek. Hy het tydens sy reis vir drie dae nie geëet nie en het dikwels daarna gese dat hy so honger was dat hy sekerlik in staat was om die hele pan ertjiesop wat voorgesit was alleen te verslind!
Marie en die ander verpleegsters het self by geleentheid tydens die oorlog honger gely en hulle het selfs eenmaal die direkteur se kat gevang en geslag. Die is toe as konyn voorgesit!
Marie se broer, Jacob, het in die Middellandse See diens gedoen as masjinis op ´n Duitse skip. Tydens ´n Geallieerde lugaanval is hy deur ´n bomskerf in die rug getref. Hy het daarna vir maande in ´n hospitaal in Napels gele voordat hy aan sy beserings beswyk het. Toe Marie van haar broer se verwonding hoor, het sy dit selfs oorweeg om onwettig na Napels te reis om hom daar te gaan verpleeg.
´n Ander broer van Marie, Leendert, is tydens die oorlog na Rusland om die Duitsers in die nuwe "Ostland" te help boer. Toe hy na afloop van die oorlog in Nederland geinterneer is, het Marie dikwels vir hom kos gebring.
Teen 1950 het Marie by ryk mense loseer wat alles in hulle vermoë gedoen het om Marie haar verhouding met Hans te laat verbreek. Hulle wou naamlik dat sy ´n verhouding met ´n neef van hulle, wat ´n groot boerdery op Hoeksewaard gehad het, aanknoop. Marie het egter op daardie stadium reeds haar keuse gemaak en sy en Hans is in 1952 getroud.
Vyf kinders is vir Hans en Marie in Oudehorne gebore en die oudste twee, Roeline en Jurjen, het in die "School met den Bijbel" in Oudehorne begin skoolgaan.
In 1961 vind ´n tragedie plaas toe die derde kind, Japie, op 6 Junie, die dag voor Marie se verjaardag, deur ´n trekker doodgery word.
Kort hierna kom die berig dat die regering die grond in die omgewing wou uitkoop en heropdeel sodat daar onder andere ´n pad gebou kon word. Hans doen toe aansoek om grond in die pasdrooggelegde Flevopolder, maar het toe ook aan emigrasie gedink. Hy het Australië en Kanada oorweeg, maar het uiteindelik op Suid-Afrika besluit. Laasgenoemde keuse is vergemaklik deurdat Marie se broer, Leen, reeds in Suid-Afrika was. Daar was ook nie ´n taalprobleem in Suid-Afrika nie omdat Nederlands oral in die land verstaan kon word vanweë die noue verwantskap met Afrikaans.
In 1963 emigreer Hans en Maria en hulle vier kinders dan na Suid-Afrika. Hulle vertrek op 10 April van Rotterdam op die skip "Jagersfontein" en kom op 12 mei in Kaapstad aan. Op 19 Mei klim hulle in Durban af en vertrek na die plaas Zwarraton, 40 km van Mooirivier. Die opstal het op daardie stadium reeds 47 jaar leeg gestaan!
Die kinders het by ´n Hollandse gesin op Mooirivier loseer en naweke plaas toe gegaan. Die skool was parallelmedium (Afrikaans en Engels) en daar was ´n hele paar Hollandse gesinne op Mooirivier. Roeline onthou dat die Engels vir haar die moeilikste was!
Tydens ´n besoek aan die dorp koop Hans op ´n keer ´n loterykaartjie met geld wat hy uit Marie se handtas geneem het. Sy het hom daaroor uitgetrap, maar sy eintlike skrobbering het later gekom toe die prys – ´n kas drank – met die kaartjie wen!
Hans koop in die winter van 1964 tagtig beeste teen ´n baie goedkoop prys aan. Omdat daar toe geen voer vir hulle was nie, het hulle kondisie agteruitgegaan en van hulle het van hongerte van die dipstof gelek. Die gevolg was dat ´n groot aantal gevrek het.
Hans verkoop Zwarraton aan die einde van 1964 en gaan werk as plaasbestuurder by ´n Joodse melkboer, Isakoff, in die Ermelo distrik. Na 5 maande verhuis die gesin na Alberton waar Hans bestuurder op ene Josephs se melkboerdery word.
Later koop Hans die plaas Rooikraal tussen Brakpan en Heidelberg en gaan in vennootschap met die eienaar van ´n steenmakery. Hans staan borg vir laasgenoemde en verloor sy plaas toe die besigheid bankrot speel.
In 1967 gaan werk Hans by ´n staalfabriek in Vereeniging en daarna as plaasvoorman buite Nigel.
In 1969 kry Hans werk by Nigel Plen waar hy dorsmasjiene monteer. In die tyd trek Hans en Maria na ´n kleinhoewe by Dunnottar.
In 1971 begin Hans as bakbouer by die munisipaliteit van Nigel werk terwyl hy deeltyds op de kleinhoewe boer. Hy sterf op 18 Januarie 1977 tragies na ´n ongeluk by sy werk waartydens ´n konka met olie ontplof.
Marie verhuis na Hans se dood na Nigel en bly daar tot in 1989 toe sy as gevolg van rumatoiede artritis na ´n ouetehuis in Benoni is.
Marie sterf op 7 Augustus 1992 op 72jarige leeftyd aan longontsteking.
Published: Nov. 2007.
|